Resepte

Handjies klap, koekies bak…

As ek dink aan somer vakansies en kind wees is een van die eerste goed waaraan ek dink, koekies bak. My ma het altyd in die eerste week van die vakansie klein koekies gebak en ons het altyd met groot opwinding help uitrol aan die koekies. Daar is gewoonlik ten minste vier verskillende soorte klein koekies gebak en ek en my broer kon elkeen ‘n tipe koekie kies om te bak. My ma het die ander twee gekies. Een van haar keuses was altyd gemmer koekies, so gemmer koekies was daar altyd. Verder het die ander gewissel van “romany creams”, vlakoekies, hawermoutkoekies, speserykoekies, koffiekoekies, grondboontjiebotterkoekies en soetkoekies. Vandag is daar hordes resepte vir verskillende tipes kein koekies en self het ek al ‘n paar gebak, maar hierdie jaar het ek besluit om weer van die ou gunsteling nader te sleep en weer te bak.

Ek het net eers drie verskillendes gebak, maar ek gaan net hier twee resepte met julle deel. Die derde een was ek nie mee tevrede nie en ek sal ‘n volgende keer ‘n beter resep uitprobeer en dit hier oplaai. Vir nou dan… vlakoekies en grondboontjiebotterkoekies! Ek het eerste die vlakoekie deeg aangemaak aangesien dit in die yskas moet rus voor jy dit uitrol. Die oond moet ook effens warmer wees vir die vlakoekies, so bak hulle eerste. Kyk of jy so twee plate op ‘n slag in jou oond kan kry. Begin dan die eerste plaat bak terwyl jy die tweede plaat se koekies rol. Op so ‘n manier kom jy in ‘n lekker ritme waar jy die plate uithaal en weer kan insit met nuwe koekies op sonder om tussen in te staan en wag vir die bakslag. Onthou net om mooi kop te hou met die bak tye van die verskillende plate koekies!

img_5927

Vlakoekies (Resep op Rooi Rose se webtuiste onder Outydse Vlakoekies):

250 g botter

175 ml suiker

2 eiers

5 ml (1 t) vanieljegeursel

37,5 ml (2 ½ eetl) vlapoeier

20 ml (4 t) bakpoeier

750 ml (3 kop) koekmeel

Voorverhit oond tot 200°C. Spuit ‘n bakplaat met kleefwerende kossproei. Verroom die botter en suiker goed saam tot lig van kleur. Voeg die eiers een vir een by terwyl die menger op stadig loop. Voeg die vanieljegeursel by en meng goed. Sif die vlapoeier, bakpoeier en meel goed saam. Voeg dit by die botter mengsel en meng goed saam tot ‘n deeg vorm.

Draai die deeg toe in kleefplastiek en sit dit vir 20 min in die yskas. Rol die deeg nou in balletjies uit (so okkerneut grootte*) en druk dit plat met ‘n vurk of lepel. ( Jy kan dit in ‘n koekiedrukker ook sit en vorms uitdruk).

Bak vir 10 – 12 min tot ligbruin. Koel af op ‘n afkoelrak en verpak dan in ‘n lugdigte houer. Die resep is baie lekker. Dis koekies is lekker bros sonder om te maklik in ‘n blik te breek.

 

Grondboontjiebotterkoekies (Uit die Sarie Kos van Oktober/November 2011):

170 g (185 ml) botter

200 g (250 ml) bruinsuiker

5 ml vanieljegeursel

1 eier

285 g growwe grondboontjiebotter

260 g (465 ml) koekmeel

5 ml koeksoda

Voorverhit oond tot 180°C. Spuit ‘n bakplaat met kleefwerende kossproei. Verroom botter, bruinsuiker en vanieljegeursel saam tot lig en romerig met ‘n elektriese menger. Voeg die eier en net 185 g van die grondboontjiebotter by. Meng weer goed. Sif die meel en koeksoda en voeg dit by die bottermengsel.

Rol in klein balletjies (omtrent so groot soos ‘n okkerneut*). Sit koekies op bakplaat en maak platter met die agterkant van ‘n lepel of jou skoon twee vingers (koekies moet so 2cm uitmekaar wees. Smeer nog ‘n lekseltjie grondboontjiebotter oor die koekies. Bak 12 – 15 min tot goudbruin. Laat afkoel op ‘n afkoelrak en bêre in ‘n lugdigte houer.

*meeste klein koekie resepte sê die ideale grootte vir ‘n klein koekie is so 25 g. Weeg so die eerste paar koekies af net tot jy ‘n gevoel kry van die regte grootte.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s