Gedagtes

Hoekom die Blog…

Gits…julle gaan almal begin dink ek publiseer net volksvreemde kosse hier…  Miskien moet ek so bietjie verduidelik waar die blog vandaan kom en hoekom ek dit begin het.  Dit help tog immers om te weet wat sit agter dit alles soms…

Die begin van my storie met kos is eintlik baie eenvoudig…ek is baie lief vir ‘n resepte boek.  Ek lees hulle letterlik soos ‘n storieboek en as ek in ‘n boekwinkel instap stap ek gewoonlik heel eerste na die kookboeke afdeling toe om te gaan kyk wat is daar miskien op uitverkoping of wat het een van my gunsteling kokke dalk onlangs gepubliseer (al is die oorsese boeke veral deesdae onbekostigbaar duur).  Toe ek so ‘n paar jaar terug my spik-splinter-nuwe kombuis help beplan het was my eerste versoek dat daar groot asseblief ‘n rak vir al my resepte boeke moet wees.  En moet my nie eens laat begin praat oor kos-tydskrifte nie…dis nog ‘n groot swakheid van my.  Om dit waarheid te sê het ek myself al probeer verbied om nog ‘n kostydskrif te koop voor ek nie eers die resepte gemaak het in die boeke wat ek reeds het nie…jy kan jou seker indink hoe lank daai voorneme gehou het…

Ek het natuurlik my liefde vir kos en bak en kook by my ma ge-erf.  Sy het die vermoë gehad om ‘n resep te vat en hom dan aan te pas met wat sy het.  Sy is net so lief vir ‘n resepteboek en kan hom ook van voor tot agter deurblaai en lees en kyk en droom soos ek.  Sy het baie ou geliefde resepte wat staatmakers is, maar elke nou en dan het sy ons verras as kinders met ietsie nuuts wat sy die resep by een of ander tannie vandaan gekry het.

Ek was nog altyd liewer vir bak as vir kook.  Ek het altyd gesê dat as jy ‘n resep kan lees en volg dan kan jy bak.  Ek besef nou natuurlik dat my ma my so ‘n klomp klein goedjies geleer het oor die jare wat gehelp het om ‘n aanvoeling vir bak te kweek wat ek nie eens van bewus was nie.  Dinge soos hoe brood deeg moet voel as hy styf genoeg is, wanneer jy dalk meer vloeistof by iets moet voeg, hoe om eiers reg te breek en hoe dit moet lyk as dit styfgeklits is ensomeer.  Ek het wel mettertyd besef dat kook ook belangrik is as ek nie elke aand dieselfde kos wil eet nie!  Ek het toe so amper drie jaar terug begin om ‘n plan te maak om my kook vernuf ook op te skerp…

Ek het in Januarie 2014 besluit om ‘n nuwe jaars voorneme te maak om elke maand van daardie jaar twee nuwe resepte uit te probeer.  Dit kon enigiets wees, solank dit net nie iets is wat ek al voorheen gemaak het nie.  Dis nou Desember 2016 en ek kan eerlikwaar sê dat daar in die laaste drie jaar net twee maande was waar ek nie my voorneme nagekom het nie.  Dis ‘n uitdaging en ‘n groot plesier om nou resepte te soek en uit te probeer.

En dis dan waar die blog vandaan kom.   Ek het mettertyd geleer dat resepte nie altyd al die klein stukkies raad gee wat so belangrik is om ‘n resep ‘n sukses te maak nie.  En dis dan nou deel van wat ek hier probeer doen… om resepte te gee wat ek al uit probeer het.   Om waar ek nog inligting moes gaan kry het, dit ook deur te gee en sodoende (hopelik) resepte hier te hê wat mens kan volg en maak. Dis verskeie resepte…  Dis resepte wat maklik en vinnig is, dis resepte wat ek oorsee van gelees of oorsee leer maak het en soms is dit resepte wat mens bietjie uitdaag om buite jou gemaksone te tree om daai regtig onverbeterlike, onvergeetlike gereg te maak waarvan jy nog vir weke daarna droom.

Saam met die resepte hoop ek om so nou en dan van mooi plekke (die rugsak deel) en mooi dinge (die wynglas deel) ook te skryf.  En sommer net die lewe soos ek hom sien, oor te gesels.

Stuur vir my kommentaar.  Laat weet my wat my dink.  En kom bak en brou saam.  Iemand het een keer gesê dat een van die sekerhede wat ons het is dat ons wel moet eet om te oorleef.  Hopelik kan hierdie blog jou inspireer om meer te doen as net oorleef, maar om te leef!…met ‘n voorskoot om die middel, ‘n rugsak op die rug en ‘n wynglas in die hand!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s