Resepte

Tortillas

In September 2012 het OFM ‘n debat (of dan nou seker darem eerder net ‘n bespreking) gehad oor wat die afrikaanse woord is vir tortilla. Daar was verskeie menings met onder andere ‘n hoender kardoesie (vir ‘n hoender “wrap”), ‘n roosterkoek rolletjie en ‘n hoender oorvou pakkie wat voorgestel is. In November hierdie jaar was daar weer ‘n gesprek op RSG oor hierdie onderwerp en die dame wat gepraat het, het dit weer ‘n oorvou pakkie genoem.

Wat dit ookal genoem word, ‘n tortilla is een van daai goed (soos koeskoes) waarmee ek geensins groot geword het nie, maar nou so deel geword het van ons kos-taal en gebruike hier in Suid Afrika. ‘n Tortilla is natuurlik van Meksikaanse oorsprong en word in alle vorme daar ge-eet. Wikipedia sê vir ons dat dit iets is wat glo deur ‘n Mayanse boer gemaak is vir sy honger koning. Dit word tradisioneel van mieliemeel gemaak en kan op verskeie maniere voorgesit word.

So besluit ek so paar jaar terug dan ek tortillas self wil probeer maak ( ek het iewers gehoor jy kan so iets doen). Ek begin resepte uitprobeer, maar party is taai of te bros of smaak glad nie lekker nie. ‘n Vriendin van my, Denise Loubser, het op daai stadium ook ‘n blog geskryf en sy laat weet my toe ek moet op haar blog gaan kyk, sy het ‘n resep gekry wat werk. Ek het hom gemaak volgens die aanwysings wat sy gegee het en dit het inderdaad baie goed uitgekom. Ek deel dan graag haar resep vir tortillas hier. Die fotos is ook van haar blog af (wat sy nie meer bestuur nie).

Die tortillas is baie goedkoop om te maak en as jy dit eers een keer geleer maak het, sal jy dit nie sommer weer koop nie. Dit is effens moeilik om dit perfek rond te kry met die uitrolslag, maar soos Denise ook gesê het…dit lyk eintik nogals mooi en outentiek as dit so effens ‘n vreemderige vorm het. Hierdie tortillas vries ook goed. Jy plaas net stukke was-papier tussen-in en plaas dit in die vrieskas in ‘n lugdigte houer of sakkie.

img_6460

(Foto van Brown Eyed Baker se website)

Jy benodig:
2 koppies meel (broodmeel werk beter en jy kan selfs volgraan meel gebruik)
1 koppie mielieblom (Maziena)
1 koppie water
1/3 koppie olyfolie (jy kan enige olie gebruik, maar ek hou van olyfolie vir die resep)
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel sout
Ekstra meel vir die uitrolslag.

Die maklikste is om hierdie in ‘n staan-menger te meng (gebruik die kniehoek). Maar as jy nie een het nie, kan jy dit maar net met jou hande meng en knie. Voeg die droeë bestandele in die menger en meng tot deeglik gemeng.

Voeg die olie en water by en meng vir so ‘n minuut tot goed gemeng. Skraap die kante van die bak skoon en meng weer vir ‘n minuut of twee op ‘n medium spoed tot ‘n bal deeg vorm.

Haal uit die mengbak en plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak. Deel die deeg in twee. Deel elke helfte weer in twee en dan in drie dele sodat jy 12 ewe groot stukke deeg het. Rol die deeg in balletjies. Bedek die deeg en laat dit rus vir omtrent 30 minute.

Rol nou die deeg uit in ‘n plat sirkel. Die makliste om dit reg te kry is om die balletjie plat te druk met jou handpalm en dan met ‘n koekroller geleidelik dit platter te rol terwyl jy die heeltyd die tortilla draai tot jy ‘n (min of meer) ronde, plat tortilla het. (Moenie die rou tortillas op mekaar pak nie…hulle sal vassit.)

Maak ‘n kleefvrye pan baie warm en bak dan die tortillas een vir een in die pan. Draai dit om sodra daar bruin kolletjies aan die onderkant verskyn. Bak aan die ander kant tot daar ook bruin kolletjies verskyn. Moenie die tortillas te lank bak nie, dit sal hard word. Jy het geen olie nodig nie, maar as die tortillas vassit kan jy die pan so een keer spuit met kleefwerende sproei tussen die tortillas. Onthou ook om die pan skoon uit te vee tussen die tortillas. Die meel wat in die pan lê kan dalk brand en die tortillas ‘n bitter smaak gee.

 

Volgende week publiseer ek ‘n resep vir Enchilladas waarvoor jy hierdie tortillas kan gebruik..

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s