Resepte

Melktert… ‘n Top Tert

My ouma Hester is oorlede toe ek 7 jaar oud was. Ek kan haar net vaagweg onthou, maar wat ek wel altyd van haar geweet het is dat sy baie goed kon melktert bak. Haar resep vir melktert is in my ma se handgeskrewe resepte boek en as my ma melktert wou bak was dit hierdie resep wat gebruik is. Toe ek ‘n melktert resep soek het ek dadelik my ma gevra vir Ouma Hester se resep. Die resep het altyd ‘n bietjie meer pap gemaak as wat in die twee tertborde kon pas en ons kinders het gewoonlik meer uitgesien na die melktert pap wat ons sou kry (dit is eenkant gehou vir ons) as na die melktert self. Ek het een keer vir my ma gevra of ek maar die bietjie ekstra deeg net in ‘n vierkantige bakkie sommer kan bak vir ‘n klein melktertjie en my ma (wat gewoonlik redelik oop is vir eksperimenteer met kos) het vir my duidelik laat verstaan dat “nee sussa… ‘n melktert is ‘n ronde tert”. So melktert is deel van my grootword, van my leef in Suid Afrika. En in my opinie is Ouma Hester se resep die beste melktert resep.

Gelukkig is ek versterk in my “geloof” in Ouma Hester se melktert resep toe ek verlede jaar die Weg tydskrif se melktert bak kompetisie gewen het met hierdie einste resep.  Ek is oortuig om deel te neem aan die kompetisie deur vriende van my.  Ek het vir ‘n vale melktert gebak om te oefen vir sowat ‘n maand en uiteindelik moes ek toe my melktert bak ter aanskoue van Martjie Malan (van Koekedoor faam) en die Weg joernalis, Sofia Van Taak.  Hul was blykbaar heel beïdruk met my melktert-bakery, want so paar maande later is my melktert toe aangewys as die Toptert.

Ter viering van Nasionale Melktertdag, hier is dan nou my Ouma Hester se melktert resep…

Skilferkors

500g meel

2 eiergele

1 ½ teelepel kremetart

1 koppie soda water

375g botter (hard)

1 knippie sout

 

Metode

Hou ¾ koppie meel en 1 teelepel kremetart eenkant. Meng orige meel, sout en kremetart. Rasper 250g botter in en vryf dit in tot dit soos growwe mieliemeel voel. Klits die eiergele en soda water saam. Meng dit in die meel mengsel deur dit in te sny met ‘n mes en meng tot jy ‘n deeg het. Sit dit oornag in die yskas (nie die vrieskas nie). Vroeg in die oggend as dit nog koel is (of in ’n koel deel van die huis) rol die deeg uit tot so ‘n 30cm by 30cm grootte blok. Sprinkel die oppervlak met die meel en kremetart mengsel wat jy eenkant gehou het. Rasper die orige botter op. Vou dit toe soos ‘n laken. Sprinkel van die meel mengsel bo-op ook. Rol dit weer lekker dun uit tot die botter goed ingewerk is. Vou weer op en sit in die yskas tot goed koud. Dit kan nou gebruik word. Rol weer uit tot so 5mm dikte en sit in ronde tertborde. Emalje borde werk goed (as dit van die dun soort is, sit twee op mekaar). Sny die randte af sodat die bord mooi netjies bedek is. Maak seker as jy die randte afsny dat jy ‘n lekker skerp messie gebruik sodat jy nie die “lae” van die skilferkors te vasdruk op mekaar nie. Sit die tertbord met die kors in terug in die yskas om hom koud te hou. (My ma het altyd met die orige kors al op die randjie langs nog ‘n lagie met bietjie water “vasgeplak” sodat die randte lekker dik kan uitrys… dis bietjie kroek, maar dit lyk mooi)

Melktert vulsel

1 liter volroom melk

4 tot 6 eiers (hang af hoe groot hulle is) geskei

150 ml meel (gesif)

45 ml mielieblom (maziena)

1 koppie suiker (as jy hou van ‘n soeter melk tert kan jy dit meer maak met ‘n ¼ koppie)

Knippie sout

1 tot 2 eetlepels botter

½ teelepel kremetart

1 ½ teelepel geursel (vanilla of ‘n mengsel van 1t vanilla en ½ t amandel of naartjie skil)

Kaneel vir bo-oor strooi

 

Metode

Voor verhit die oond tot 220°C. (soms is konveksie oonde te warm, maak dit dan so 20°C koeler). Meng die suiker, meel, maziena en sout met ‘n ¾ koppie van die melk. Klits die eiergele. Meng by die suiker en meel mengsel. Klits die eierwitte styf saam met die kremetart. Kook die res van die melk saam met die geursel en botter. Roer die meel mengsel in die kookmelk in terwyl aanhoudend roer. Prut tot dik. Hou aan met roer (dit brand maklik aan). Vou die eierwitte in by die warm melk pap. Gooi die warm mengsel nou in die koue korse. Bak dan op die 3de rakkie in die oond vir 15 tot 20 min of tot mooi ligbruin bo-op. Strooi kaneel mildelik bo-oor.

Genoeg vir 2 groot melkterte.

IMG_2663.JPG

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s