Uncategorized

Geroosterde Tamatiesop

IMG_7362Ek dink eerlikwaar dat tamaties een van my gunsteling goed is om in my yskas te hê. Of dit nou ‘n vrug of ‘n groente is gaan ek nou nie hier debateer nie (ja, ja, ek weet dis tegnies ‘n vrug, maar dis ook nou nie asof jy hom in jou vrugteslaai gaan insy in die oggend saam met jogurt nie…). Ek het herinneringe van kleintyd aan vars tamaties wat jy met net ‘n pot sout by jou sit en opeet en wie is dan nou nie lief vir ‘n tamatie en kaas toebroodjie nie? Toe ek in Londen gebly het was dit letterlik een van die hoogte punte van my jaar toe ek die dag by ‘n vars produkte stalletjie naby my werk tamaties gekoop het wat soos tamaties geruik en geproe het en nie so watering was soos die wat jy gewoonlik in die supermark gekoop het nie. Ek dink ek het ‘n hele middag my huismense mal gemaak deur hulle almal te laat ruik aan die tamaties wat soos regte vars tamaties ruik!

Een van die goed wat dus altyd in my inkopie mandjie beland as ek gaan vars goed koop is tamaties en dan die afgelope paar jaar veral, roma tamaties. Roma tamaties is daai tamaties wat so effens oval vormig is en dit word gewoonlik verkoop as cherry-tamaties. Hy kom wel voor as groter tamaties ook, maar ek weet waar ek gewoonlik inkopies doen is die kleiner weergawe meer algemeen beskikbaar. Roma tamaties is heelwat soeter en het ‘n lekkerder smaak as gewone tamaties. Hulle staan ook bekend as italiaanse tamaties of “plum” tamaties. Hierdie tipe tamatie werk veral goed vir hierdie sop resep omdat dit nie suur is nie. Indien jy nie roma tamaties kan kry nie kan gewone tamaties ook werk. In hierdie resep bepaal die kwaliteit en smaak van die produk (die tamaties) wel grootliks die smaak van die eindproduk (die sop), so maak seker jy het lekker vars tamaties met ‘n lekker smaak. Die resep het ek raak gelees in ‘n boek van Carmen Niehaus (Top 500 Wenresepte 2). Ek het dit effens aangepas en gee hom hier soos ek hom onthou het en gemaak het. Die resep sê dis genoeg vir 6, maar dan moet jy ‘n lekker broodjie bysit.

Jy benodig:
2 kg ryp tamaties
200 ml olyfolie
6 knoffelhuisies (geskil en gekap)
6 takkies vars tiemie (fyngekap)
4 takkies vars roosmaryn (blare verwyder en fyngekap)
4 medium uie (fyngekap)
4 seldery stingels (fyngekap)
1 rooi brandrissie (pitte verwyder en fyngekap) (ek het ‘n gedroogte een gebruik, maar ‘n vars een kan ook werk)
1 pakkie tamatiepasta (as jy nie roma tamaties gebruik nie, gebruik net ‘n halwe pakkie…anders kan dit te suur raak)
2 teelepels suiker
Sap van een suurlemoen
Sout en varsgemaalde peper na smaak

‘n Paar takkies basilieblare
Basiliepesto
Volroom natuurlike jogurt
Olie vir braai

Sit die oond se roosterelement aan. Sny die tamaties in die helfte en sit hulle in ‘n groot oondpan. Rooster onder die element in die oond tot hulle begin swart randjies maak en sag is. (Meng so elke nou en dan deur).

Verhit intussen die olie in ‘n groot pan of ‘n ‘n pot op die stoof. Braai die knoffel en kruie in die olie sodra die olie warm is. Voeg die uie, seldery en rissie by en braai tot die uie amper sag is (dit raak so half deurskynend). Gooi nou die uie-mengsel op ‘n bakplaat. Teen hierdie tyd behoort die tamaties gaar en lekker gerooster te wees. Haal die tamaties uit en stel die oond op 190°C. Plaas die bakplaat met die uie-mengsel in die oond en bak vir 30 min.

Gooi solank die tamaties in ‘n groot pot. Voeg die tamatiepasta, suiker en suurlemoensap by. Sodra die uie-mengsel klaar gebak is, voeg dit ook hier by. Verwerk nou alles met ‘n staafmenger of in ‘n voedselverwerker. Geur die sop na smaak met sout en peper. As die sop te dik is, verdun met water. Verhit in die pot oor matige hitte.

Om te bedien: Sit ‘n eetlepel volroomjogurt en ‘n teelepel basiliepesto bo-op elke bakkie sop. Braai die basilieblare in die olie en bedien die sop met die diepgebraaide blare bo-op.

Geniet saam met ‘n lekker varsgebakte broodjie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s