Resepte

Snoekbraai

As die sleepwaentjies met die amper onleesbare borde wat sê ‘vars snoek’ begin om besigheid te doen langs die paaie in Mitchell’s Plain dan weet jy die winter is amper hier. Want snoek loop net in die maande van die jaar wat nie ‘n ‘r’ in het nie…m.a.w Mei, Junie, Julie, Augustus. Ek weet jy kan deesdae snoek enige tyd van die jaar kry en veral in die groot winkels is dit regdeur die jaar te kope. Maar die mense wat weet sal nogsteeds vir jou sê dat ‘n snoek op sy lekkerste is in daai maande van die jaar sonder die ‘r’. En as jy die snoek koop, hoe weet jy hy is reg? Hy is nie pap nie? Want niks is slegter as om so opgewonde te wees oor ‘n lekker snoekie en dan is hy pap… Die mense op die kaapse vlakte sal vir jou sê dat hy net nie soos ‘n vis moet ruik nie… Want as hy ruik soos ‘n vis, dan gaan hy proe soos ‘n af vis. Sy oë moet helder wees en volgens ‘n kollega van my vertrou sy gin mense wat die snoek aan haar wil verkoop sonder die kop nie, want dan kan jy juis nie sien of die oë helder is nie. Maar as jy nou nie vertroue het in jou eie vermoë om ‘n vars snoek uit te ken nie dan is daar altyd vis handelaars in winkels waar jy ook kan koop. Vir my persoonlik is ‘n gebraaide snoek die heel lekkerste. Met ‘n sousie oor, maar nie te veel fieterjasies nie.

Saam met snoek eet jy natuurlik patats en lekker vars gebakte brood met korrelkonfyt. Korrelkonfyt is druiwe konfyt. (Hieroor vertel ek volgende week meer.) Die patats kan sommer in foelie in die vuur gaargemaak word. Dit vat net heelwat langer as die snoek, so as jy dit wil doen moet jy net heelwat vroeer met die patats al begin. Waarvoor ek ook nogals deesdae baie lief is, is om die patats in die oond te bak met ‘n room en witsoppoeier sousie soos wat jy gewoonlik met ‘n aartappelgebak sou maak. Maar hoe jy ookal besluit om dit te maak, patats en snoek gaan saam soos brood en konfyt, so moenie dit weglaat nie.

Hier is ‘n resep vir gebraaide snoek. Ek het met verskeie mense gepraat en op verskeie plekke gaan soek vir ‘n lekker resep vir snoek braai en hier is die versameling van wat die meeste mense gesê het en ek toe op die proef gestel het.

Jy benodig…
1 Vars snoek
Olyf olie
Sout en pepper
150 ml appelkoos konfyt
100ml botter (of olyf olie)
Sap van een suurlemoen
4 gekneuse en gekapte knoffelhuisies
25 ml soja sous (ek weet hierdie klink vreemd, maar dit gee regtig ‘n lekker smaak)

As jy nie weet hoe om ‘n snoek skoon te maak nie…ek weet ook nie. Vra vir die mense by die viswinkel. Die kop moet verwyder word en die skubbe afgekrap word.

Wanneer jy dan nou reg is vir braai was jy eers solank die snoek terwyl die vuur nog brand. Maak hom droog met handdoek papier. Jy kan ook intussen die marinade maak. Braai die knoffel in die botter. Voeg die ander bestandele by (appelkooskonfyt, sojasous en suurlemoensap).

‘n Snoek word oopgevlek gebraai. Vryf die velkant met olie om te keer dat die vassit. Dan kan jy kies of jy die snoek op foelie wil braai of sonder die foelie. Daar is voordele en nadele aan beide opsies, so kies een wat werk vir jou. As jy sonder die foelie verkies moet jy die kole fyner dophou dat die snoek nie brand nie. Die vel is wel lekker brosgebraai met hierdie metode. As jy met die foelie verkies dan kan die kole warmer wees en die sous wat afloop val nie in die vuur nie.

Die snoek braai vir omtrent 80% van die tyd met die velkant ondertoe. As jy met foelie braai is dit omtrent 10 minute met die velkant na onder, 3 minute met die bo-kant na onder (jy kan nou die foelie verwyder) en dan net weer 2 minute met die velkant na onder. Sonder foelie is dit omtrent 12 minute met die velkant na onder end an 3 minute met die bo-kant na onder. Smeer deurentyd van die marinade oor die snoek.  Die snoek is reg wanneer jy die vleis by die dikste dele maklik met ‘n vurk kan vlok (steek ‘n vurk in die dik vleis deel… as jy die vurk draai en die snoek vleis kom maklik los is dit reg).

 

Bedien die snoek in ‘n groot oop bakplaat. Breek die stukke appart met ‘n eierspaan. As jy die snoek sny met ‘n mes is daar ‘n groot kans dat jy die grate kan opsny in kleiner stukkies wat dan makliker vassit in ‘n mens se keel.

Een laaste wenk… die magie deel is die lekkerste deel van ‘n snoek! Geniet dit!!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s