Resepte

Korrelkonfyt (of te wel…druiwekonfyt)

Ek het vir lank toe ek heel klein was nie geweet dat mens konfyt in ‘n winkel kan koop nie. En later jare het ek besef hoeveel lekkerder tuisgemaakte konfyt is as gekoopte konfyt. My ma het baie konfyt gekook toe ek klein was. Ons het in ‘n deel van die land groot geword waar vrugte baie vollop is en dit maklik was om ‘n oormaat vrugte in die hande te kry om konfyt mee te kan kook. Ek het ook mettertyd besef dat nie almal konfyt mense is nie, maar ons was verseker konfyt mense…by enige ete waar daar brood voorgesit word is daar ten minste twee soorte konfyt ook altyd op die tafel gewees. Januarie maand was dan ook altyd druiwekonfyt tyd. Dis wanneer jy Hannepoot druiwe maklik kon kry. Hannepoot druiwe maak volgens my die heel lekkerste konfyt. Hy het ‘n baie lekker smaak en maak heerlike konfyt. Dit ruik heerlik soos soetwyn en is onmiskenbaar.

My heel eerste probeerslag met druiwekonfyt was ‘n totale flop! Dit het heeltemal versandsuiker en basies ‘n tameletjie gemaak in die pot. Ek het op ‘n stadium gedink ek gaan daai pot moet weggooi so het dit aangebrand! Ek het toe by my ma aangeklop vir raad en hulp en in die Kook en Geniet ook bietjie navorsing gedoen en nou het ek al so 3 jaar in ‘n ry baie suksesvol druiwekonfyt gekook. Hier is dan my resep en instruksies hoe ek dit doen wat lekker werk.

IMG_7347

Jy benodig…

‘n goeie klompie Hannepoot druiwe (as dit nog effens meer aan die groener kant is, is dit doodreg en eintlik beter… ek gebruik gewoonlik so 3 kg)
1 kg suiker vir elke kilogram vrugte wat jy gebruik

Was die vrugte en haal die korrels van die stammetjies af. Gooi die vrot vruggies weg. Sny die vrugte rofweg in die middel deur. (Die Kook en Geniet se hier jy moet die pitte verwyder met ‘n vuurhoutjie se agterkant…ek doen dit nie…maar as jy so geroepe voel is jy meer as welkom om dit te doen.  Die meeste pitte kook uit in die kookproses en dryf bo-op, so dis maklik om af te skep.)

Pak die vrugte in ‘n groot pot met ‘n dik boom in lae afgewissel met suiker. Ek gooi gewoonlik so 500g vrugte in gevolg deur 500g suiker en herhaal dit tot die vrugte op is. Eindig met suiker. Plaas nou die pot op ‘n stadige plaat (ek sit my stoofplaat op 1 of 2). Die vrugte gaan begin sap afgee soos wat dit verhit en die sap sal die suiker oplos. Wees geduldig!..dit vat ‘n hele rukkie afhangend van hoeveel vrugte jy in het en hoe groot jou pot is. Moenie roer hieraan tot jy begin sien die boonste suiker begin oplos in die vloeistof.

Sodra die suiker alles gesmelt is kan jy nou die hitte vinnig opdraai. Kook die konfyt nou vinnig tot reg en roer aanhoudend. Jy weet die konfyt is reg deur so elke nou en dan ‘n piering met ‘n bietjie konfyt op in die yskas te sit. As die konfyt begin ‘n dik stroop vorm sodra dit koud is, is die konfyt reg. Moenie die konfyt oorkook nie…dit gaan donker en baie taai wees. Jy kan ook die pitte en skuim afskep soos wat dit boontoe dryf.

Gooi nou die konfyt in gesteriliseerde flesse en seël dadelik.

(Flesse kan gesteriliseer word deur hulle te vul met kookwater of selfs vinnig in die oond te bak of ‘n kombinasie van beide hierdie tegnieke. Ek seël my flesse deur ‘n vierkant waspapier bo-op die fles se bek te sit en dan die deksel bo-oor dit toe te draai. )

PS…druiwekonfyt werk ook baie goed op ‘n kaasbord saam met bloukaas…geniet dit!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s