Resepte

Sjokolade sous vir roomys

Dis Kersfees! Hier in Suid Afrika het ons natuurlik ‘n hittige, Somer Kersfees en nie die tradisionele Kersfees wat op al wat ‘n kaartjie en fliek uitgebeeld word waar dit sneeu en koud is nie. Hier aan die Suid punt van Afrika raak dit om die waarheid te se erg warm en ons het oor die jare ook ons Kersetes aangepas om by ‘n warmer klimaat te pas. By ons huis was daar altyd verskeie vleise en heerlike slaaie en natuurlik ‘n mostert-ring of ten minste ‘n tuisgemaakte mostert sous. Vir poeding weet ek die meer tradisionele dis is ‘n Trifle. Maar ek persoonlik is nie so baie lief daarvoor nie (my persoonlike opinie…) en ek onthou dat my ma baie eerder Casata gemaak het en dit bedien het gewoonlik met vla. ‘n Heerlike ryk, donker sjokolade sous werk ook baie goed saam met Casata. Hierdie sous het ek leer maak in my eerste jaar wat ek gewerk het en die geld maar bietjie skraps was. Dis ‘n baie ekonomiese sous, maar baie lekker. Die oorspronklike resep kom uit SJA De Villiers se Kook en Geniet, maar ek het dit effens aangepas. Ek gebruik ook minder suiker omdat die oorspronklike sous vir my te soet is. Bedien die sous saam met roomys en ‘n heerlike verskeidenheid van sprinkels en lekkergoed om bo-oor te gooi.

Jy benodig…
125 tot 180 ml (½ to ¾ koppie) suiker (hang af hoe soet jy die sous wil he)
60 ml (4 eetlepels) kakao
‘n knippie kremetart
‘n knippie sout
125 ml (1/2 koppie) water
15 ml (1 eetlepel) botter (moenie margarine gebruik nie)
5 ml vanieljegeursel
10 tot 15 ml (2 tot 3 teelepels) maziena
So paar blokke donker sjokolade, gekap (opsioneel)

Meng die eerste vier bestandele en kook 3 minute lank in die water tot dit effens begin verdik. Meng die maziena met ‘n klein bietjie water om ‘n gladde pasta te maak. Voeg dit by die sous. Roer aanhoudend en kook nog so paar minute. (jy kan nou die gekapte sjokolade byroer indien gebruik) Roer die botter in en laat effens afkoel. Voeg die vanieljegeursel by en meng goed deur. Laat afkoel en bedien saam met roomys.

Hierdie sous begin na ‘n dag se staan soms effens sandsuiker vorm. Jy kan dit net weer verhit om die suikerkristalle te smelt.

Geseende Kersfees!!

English list of ingredients:
125 to 180 ml sugar
60 ml coco
Pinch of cream of tartar
Pinch of salt
125 ml water
15 ml butter
5 ml vanilla essence
10 to 15 ml maziena
A few blocks of dark chocolate, chopped (optional)

Leave a comment