Resepte

Groenboontjies met ‘n kinkel

IMG_6938As ek aan groenboontjies dink, dan dink ek aan groenboontjie-bredie.  Ek dink ook aan baie aande wat ons moes help om die oorvloed groenboontjies wat uit die groentetuin gekom het, te kerf.  Sakke en sakke vol gekerfde groenboontjies…  As jy te grof gekerf het is daar baie gou vir jou gesê jy is besig om volstruiskos te maak  (iets wat ek tot vandag toe nie so heeltemal lekker verstaan nie, maar ek neem aan dit was omdat dit dan te groot was…).

Ek het wel nog altyd gesoek na ‘n lekker manier om groenboontjies gaar te maak om dit dan as ‘n bykos te kan bedien sonder dat dit noodwendig doodgekook is.  Hierdie resep het ek aangepas vanaf ‘n resep wat ek in ‘n resepte boek van Jamie Oliver gelees het.  Ek weet dat vir ons Suid Afrikaners is meeste van sy resepte nie iets wat ons maklik kan maak nie omdat hy allerhande totaal vreemde bestandele gebruik, maar hierdie resep is nogals besonders maklik en ook besonders lekker.  Bedien die bone as ‘n bygereg saam met vleis.

Wat jy benodig…

‘n pak vars groenbone (500 g)

2 tot 3 eetlepels olyfolie

2 tot 3 huisies knoffel (fyngekap)

1 wiel feta kaas

2 to 3 teelepels suurlemoensap

slaaiblare vir bediening (opsioneel)

Sny die boontjies se punte af en sny hulle in die helfte deur as hul nogals lank is.  Stoom hul gaar in die mikrogolfoond vir so 3 minute of op die stoof in kookwater (moenie die boontjies dood en vaal kook nie..).

Verhit die olyfolie en braai die knoffel daarin.  Gooi die boontjies hier by (versigtig!!!…die olie is warm) en roer vinnig ‘n paar keer deur.  (Wat ook goed werk is om die pot se deksel op te sit en die pot vinnig te skud).  Haal van die hitte af.  Krummel die feta oor en gooi die suurlemoen sap by.  Meng vinnig deur tot die feta begin smelt.

Bedien op slaaiblare as jy wil of net so.

 

English list of ingredients…

1 packet fresh green beans (500 g)

2 to 3 tablespoons olive oil

2 to 3 garlic gloves (chopped)

1 round of feta cheese

2 to 3 tablespoons lemon juice

salad leaves for serving (optional)

Leave a comment