Bottel en bere / botteled and preserved · Resepte

Groenvyekonfyt

So elke nou en dan kry ek ‘n bevlieging waar ek voel ek wil iets aanpak wat my effens bang maak of wat my ten minste laat wonder of ek dit sal kan regkry.  Dit werk nie altyd so goed uit nie  en ek moes al menigte floppe net so in die drom gooi, maar nou en dan, dan kom dit werklik pragtig uit en is ek heel in my skik met die resultaat.  My eerste probeerslag om groenvyekonfyt te kook was een van die goeie probeerslae…

Die ouer generasie het gesê jy moet groen vye pluk voor 15 Oktober.  Die rede hiervoor vind ek toe nou uit is om te keer dat die vye nie te veel uitsit en dit dan te hol is nie.  Jy soek vye wat nog lekker vlesig is om al daai lieflike stroop op te slurp.  Groenvyekonfyt word natuurlik van voorvye gemaak.  Die vyeboom dra groenvye so rondom Oktober maand.  Hierdie vye raak nie die ryp vye wat ons almal ken nie.  Hulle val af (as iemand hulle nie pluk vir konfyt nie) en dan dra die boom so omenby Januarie se kant sy ryp vye wat so lieflik ryp en sappig raak.

Toe ek vir my ma vertel dat ek groenvyekonfyt gaan kook was haar eerste reaksie dat ek baie braaf is…  Dit was nie juis die reaksie waarop ek gehoop het nie, maar ek het toe op daardie stadium reeds die vye gepluk gehad, so deurdruk moes ek toe nou maar deurdruk.  Ek was bevoorreg genoeg om ‘n goeie 3kg groen vye by vriende van my te kon gaan pluk wat ‘n vye boom in hulle tuin het.

Net ‘n nota oor die pluk van vye…die melk wat uitloop brand en laat jou vreeslik jik. Ek sou voorstel jy pluk hulle maar met handskoene aan…en dra ou klere.

Jy berei die vye as volg voor vir die konfyt…

Die oorspronklike resep sê jy moet die vye krap, rasper of baie dun afskil. Ek het dit begin doen en toe my ma gebel en haar gevra of sy dit doen (ek kon nie onthou dat sy dit ooit gedoen het nie en ek was regtig nie lus vir die ekstra moeite nie…hoekom dan nou?). Sy het toe gesê dat as ek die soort vye met die dun skilletjie het, dan hoef ek dit nie eintlik af te skil nie en kan dit net met ‘n lekker growwe borseltjie afwas. Ek het nie die vye afgeskil nie… maar ek noem maar dat die resep eintlik sê jy moet dit doen…so hier sal jy maar self moet besluit hoe lui (of fluks) jy voel en hoe dun jy dink daai velletjie van jou vye is. Na die geskillery moet jy met ‘n skerp messie ‘n kruisie sny aan die blom-ent van die vye (dis die ander kant as die stammetjie se kant). Moenie die snye te groot en grof maak nie, want dan gaan jou vye later in die proses makliker stukkend kook. Nou laat lê jy die vye oornag in ‘n oplossing van 15ml kalk of 45ml koeksoda op 3,5liter water. Vir die 3kg vye moes ek die mengsel so 2 keer aanmaak om alles bedek te kry. (‘n Wenk…plaas ‘n swaar bord bo-op die vye in die emmer…hulle is geneig om te wil dryf.)

img_5553Die volgende oggend spoel jy die vrugte goed af en plaas hulle in kokende water. Jy kook hulle dan vinnig saam vir 15min. Ek moes twee groot kastrolle gebruik hiervoor. Nou maak jy jou stroop. Die som vir die stroop se maak werk as volg:

500g suiker vir elke 500g vrugte en 1 ½ koppie water vir elke 200g (1 koppie) suiker. Hoekom dit so ingewikkeld uitgewerk moet word sal ek nou nie weet nie.  Basies toe nou vir my hoeveelheid vrugte werk dit toe uit op 3kg vrugte, dus 3kg suiker. Die water is dan 22 ½ koppies water, of dan nou 5,625liter water. Dit lyk vreeslik ingewikkeld, maar dit is eintlik nie te moeilik om uit te werk nie. Bepaal jou suiker gewig in gram(volgens die gewig van jou vrugte), deel dit dan deur 200 en maal met 1,5 en dit gee jou die hoeveelheid koppies water. Jy kan die water waarin jy die vrugte gekook het gebruik en net byvoeg.
Die stroop kook jy tot die suiker opgelos het. Maak 1,5liter ekstra stroop om die stroop aan te vul tydens die kookproses soos dit wegkook.

Druk nou die ergste water uit die vye wat gekook het (dis warm…gebruik ‘n handskoen) en sit dan die vye bietjie vir bietjie in die vinnig-kokende stroop. (as jy dit alles gelyk ingooi gaan die stroop ophou kook want dit gaan afkoel). Jy kan ook naeltjies, kaneelstokkies en vars gemmer ingooi sowel as 45ml tot 60ml suurlemoensap vir elke 3kg vrugte. Kook die vrugte nou vir sowat 2 ure tot die stroop effens verdik as jy dit op ‘n koue piering gooi (dit moet soos dun heuning lyk) en die vrugte glasig of deursigtig lyk.  Pak nou die vye in gesterliseerde bottels (meer hier oor later*). Gooi die stroop oor die vrugte tot die vrugte alles bedek is. Plaas nou ‘n stukkie waspapier bo-op die bek van die bottel en verseel dit dan so warm.img_5555

Siedaar! Heerlike groenvye konfyt!

*Om die bottels te steriliseer… My ma steriliseer nog altyd haar bottels op een manier. Sy vul hulle almal tot heel bo met kookwater net na die kook proses van die vrugte begin het. Sy laat hulle dan so staan tot hulle gevul moet word en gooi dan net die water uit. Sy laat selfs die doppies in kookwater l^e. (Om water te spaar kan die water gehou word vir plante of die tuin.) Die geheim is om die konfyt of stroop kokend in die vlesse te gooi sodra jy die afgekoelde kookwater uitgegooi het en dit so gou moontlik te verseel met die velletjie was-papier. Dis belangrik om die bottels so vol moontlik te maak om so te keer dat daar ‘n lagie lug is wat dan plek laat vir bakteriee. Die alternatief tot die oorlopens vol bottels is om die bottels om te draai op hul deksels so gou as wat hulle geseel is en dit so ‘n dag of wat so te los voor jy die bottels wegbere. Nog ‘n metode wat ek al raakgelees het is om so ‘n bietjie kookwater in die bottels te gooi en dit dan by 100% krag vir 10minute in die mikrogolfoond te kook.

 

8 thoughts on “Groenvyekonfyt

    1. Hi. Die kalk en koeksoda maak ‘n alkaliese oplossing en dit help om die plant sel wande sagter te maak. Dit help dan met die opneem van die stroop en om die vye sagter te maak. As jy dit net eenvoudig lank gekook het sou dit net pap gekook het. Hoop dit help.

      Like

  1. Hi, ek het jou resep gebruik tot groot sukses! Jou verduidelikkings is so beskrywend dat ek glad nie gesukkel het nie, baie dankie!

    Like

  2. Ek bly in Australië en het wel die resep gehad maar jy verduidelik alles baie beter. My vye week op die oomblik (ongeskil) en ek hou duimvas dit werk!

    Like

  3. Hoe lank Hou so n potjie ingelegde vye? Van 15 Oktober tot Kersfees of nie? Wat van pektien om dit Langer te preserveer of is dit onnodig?

    Like

    1. Hi Irene. My ma het maar altyd een keer ‘n jaar ingelê en dit het heel jaar gehou. Sy het nooit pektien by haar konfyte bygevoeg nie. Ek sou wel net sê jy moet sorg dat jy die botteltjies goed steriliseer. Vul ook die stroop tot bo en maak seker geen vye steek bo die vlak van die stroop uit nie. Dit help ook om vierkante waspapier bo-op die potjies te sit voor jy die doppies toedraai en jy kan selfs die was papier blokkies met brandewyn verf met ‘n kwassie om ook seker te maak geen bakterieë kom in nie.
      Hoop dit antwoord jou vraag.

      Like

Leave a comment